Sy Was Nie Net N Hond Nie
Sy was nie net 'n hond nie. Sy was Zsa Zsa – ons klein koningin met 'n ou siel, 'n swaaistertjie en die ongelooflike vermoë om 'n kamer vol mense beter te lees as die meeste regte mense. Wat haar werklik spesiaal gemaak het, was nie net hoe lief ons haar gehad het nie - dit was hoe BAIE HY haar liefgehad het.
My man. Die stil een. Die introvert. Die man wat eerder iets in die motorhuis herstel as om oor nietighede te praat. Wie nie vinnig is om te deel hoe hy voel nie, maar as jy mooi oplet - sal jy alles sien in die manier waarop hy honde behandel. Veral vir Zsa Zsa.
Hulle band was nie so opsigtelik nie, maar dit was diep. Die soort verbintenis wat jy nie kan namaak of afdwing nie. Jy sal dit sien in hoe sy hom deur die huis volg, hoe sy by sy voete lê, tevrede om net by hom te wees. Hy het nie nodig gehad om haar te roep nie - sy het net geweet sy hoort by hom.
In 'n wêreld vol geraas en ander afleiding, was hul verhouding stil en bestendig, soos 'n gesonde hartklop. En noudat sy weg is, sien ek die pyn wat hy probeer verdoesel, die manier waarop hy na haar soek sonder om dit te besef. Die manier waarop hy nie veel sê nie, maar sy hele wese verklap: “Ek mis jou!!”
Om 'n introvert lief te hê is nie altyd maklik nie. Hulle sal jou nie altyd vertel wat in hul hart aangaan nie - maar as jy self dieper kyk, kyk hoe hulle diegene behandel wat nié kan praat nie - die honde, die wesens wat niks anders as liefde vra nie - sal jy wéét. Jy sal weet jy deel jou lewe met net die béste.
Zsa Zsa het ons met gebroke harte en 'n stiller huis agtergelaat. Maar sy het my ook weer laat besef: die man met wie ek getrou het, onder die stilte en hardkoppigheid, se hart en menswees loop oor van die soort liefde wat ewig duur en hou.
En dit, maak nie saak wátter uitdagings ons saam beleef nie, is waarom ek opreg liéf is vir hom.