My Belofte Aan Myself

Ek gaan nooit weer VET wees nie sê Karien van der Westhuizen. Ek is 56 jaar oud en ek wil baie graag my storie met julle deel! Noem ’n dieet en ek het dit probeer, verloor en weer opgetel! 

My seun Jaco het in 2018, in sy 2de jaar op universiteit 40kg verloor op die Keto Dieet. Hy het vir ’n jaar lank probeer om my te oortuig om ook dit te probeer. 

Een oggend in Maart 2019 staan ek op en kan ek nie die grootste broek (size 52) in my kas aan kry nie. Net daar het ek besluit tot hiertoe en nie verder nie. Ek het daai selfde dag met die Keto eetplan begin. 

Die skaal het gestaan op 137.4kg. Twee weke nadat ek begin het, het my man gesien ek is baie ernstig om gewig te verloor en het saam met my begin. Hy het 42kg in 12 maande verloor. Die eerste paar maande was moeilik, maar ek was so gemotiveerd dat niks my gestop het nie. 

Ek het ’n mood board gemaak en op my yskas vasgeplak van hoe ek wil lyk en wat ek wil aantrek as ek my doelgewig bereik het. Ek het op die stadium vir my ’n rok bestel vir ’n troue van Let Love Clothing (wat natuurlik heeltemal te klein was) en elke week het ek dit uitgehaal en gesê “ek wil hier in pas” Die rok is nou te groot. 

Toe tref Covid ons, ek het net eenvoudig volgehou met die dieet en elke dag 30 keer om die swembad geloop om oefening te kry en die kop positief te hou met al die negatiwiteit wat daar op daai stadium in die wêreld was. Teen Augustus 2020 het ek ’n fenominale 73kg verloor! Ek weeg nou 65.4kg. 

Elke Sondag oggend het ek aan my seun en my ma gerapporteer hoeveel ek vir die week verloor (en soms ook opgetel) het. Ek het gesukkel met hoëbloeddruk, cholesterol en was suiker weerstandig. Ses maande op die dieet het ek alle medikasie gestaak en alle vlakke van die genoemde het na onder normaal gedaal. Tans drink ek Omega-3 olie, kollageen en ’n yster aanvulling. 

Dit is nou 4 jaar en 3 maande wat ek op my doelgewig is, ek weeg nogsteeds elke Sondag oggend en volg nou ’n baie streng Keto leefstyl. Ek eet  absoluut niks wat ek nie mag eet nie en kies altyd die gesondste alternatief wanneer dit by my keuse van kos kom. Die “Keto Food List” is nog steeds teen die yskas. 

En vir die mense wat dink dit moet erg en vervelig wees, ek het ‘n baie groot verasssing vir julle. Ek bak brood, koeke, cupcakes, kaaskoeke, wafels en alles wat lekker is. Noem enige iets wat jy in ’n restaurant / koffiewinkel kry en ek maak of ontwikkel vir jou die Keto resep daarvoor. 

Wat het keto vir my beteken in my lewe? 
Ek het van vet en skaam verander in ’n mens met goeie gesondheid, ek is deur menopause sonder enige “hotflushes” of “nightsweats”. Ek het hernude energie gekry. Ek het uit my dop geklim met ’n beter selfbeeld en voel nou goed oor myself. As mense verby my loop en my nie herken nie is dit soms nogal vir my komies, en as hulle sê ek lyk fantasies dan voel ek goed en dat al die harde werk die moeite werd was.

Ek doen jaarliks ’n professionele fotosessie vir myself om my gewigsverlies te vier… dit is ook ’n groot motiveerder om te sien hoe ek verander het oor hierdie tyd. 

Net so laaste ietsie… daar is virseker ’n mate van vryheid in ’n mens se lewe wanneer jy 50+ raak. ’n Mens maak dan soort van los van verpligtinge wat nie meer daar is nie.

Your Cart
Your cart is currently empty