Moxie Uitgawe 4
Elke keer as ek 'n nuwe Moxie-intekening, e-pos of -boodskap sien, spring my hart soos toe ek as kind verjaardaggeskenke oopgemaak het. Daardie gevoel bereik sowaar nooit ‘n vervaldatum nie. Dit gaan nie net oor getalle of verkope nie - dit gaan daaroor om te weet dit beland in die regte vroue se hande en hulle kry DIT wat ek met hierdie tydskrif probeer gee.
MOXIE is gebore omdat ek glo dat ons almal 'n ruimte nodig het wat eg, eerlik en 'n bietjie buite-die-lyne is - waar ons kan lag, dink en nie skaam voel of moet voorgee dat ons alles in die lewe uitgepluis het nie. Want, laat ons eerlik wees, wie HET nou eintlik?
Ek is nou in my wonderlike 50's, en Moxie is my passieprojek (50 is mos juis mens se jubeljaar). Ek hoop sy sal groei tot 'n tydskrif wat voel soos ’n holte vir die voet vir vroue wat hul bes (probeer) doen, soms droogmaak, daaruit leer, lag, huil en voluit LEEF.
So, uit die diepte van my hart, dankie. Dankie vir elkeen van julle wat die tyd neem om deur hierdie bladsye te blaai, vir die stories te lag en in hierdie reis te deel. Jy is die rede hoekom ek aanhou.
Gaan maak nou 'n koppie tee (of skink 'n glas wyn) en geniet hierdie uitgawe - dit is met sorg aanmekaargeslaan met liefde, ’n goeie skeut waaghalsigheid, ’n knipoog en 'n hele klomp MOXIE.
SLEGS R49