Maar nee, my oë het my nie bedrieg nie al was my brein in denial. Daar is die evidence. Lewensgroot. My boude is weg. Verdwyn. Oornag.
Hoe is dit moontlik?
Jou lyf is veronderstel om stadigaan te verander sodat dit nie so 'n skok vir die sisteem is nie. Miskien het ek dit gemis omdat ek vollengte spieëls uit die slaapkamer verban het.
Wat jy nie sien nie, kan jou nie ontstel nie. Dis hoekom ek nie my kamera lens skoonmaak nie, al preek my foon vir my: Please clean your lens for clearer pictures. Na 50 stel 'n vrou nie belang in High definition foto's van haarself nie, wysneus. Hang aan, noudat ek mooi kyk; ek dink ek weet nou waarheen die agterstewe verdwyn het. Jip, daar is hulle.
Hulle sit nou voor. As ek nie so oud was nie, sou mense sweerlik gedink het ek's swanger. Note to self: Raak ontslae van die donnerse gangspieël.
Daar's natuurlik 'n hele industrie... wat geld maak uit middeljarige vrouens wat enigiets sal doen om beter te voel oor hulleself. Ek's heel voor in die koor, suster. Ek het klaar een van daai insuig bodysuits.
Probleem 1: Die platgedrukte vet moet iewers heen, so my boobs peul bo uit, maar dis eintlik maar net my maag wat boontoe stoot.
Probleem 2: As jy 'n plassie moet maak (ja, ek weet ek laat dit soos 'n hond klink) moet jy die hele kontrêpsie uittrek en dan sit jy in 'n publieke toilet, poedelkaal met 'n deur se slot wat lankal afgebreek het, so jy probeer die deur met jou een been toehou...
Probleem 3: Omdat die ding so styf is kry ek binne 10 minute 'n helse maagpyn en is dan vir 4 dae later nog steeds hardlywig. Ja, ja, too much information.
Ek hoor jy kry nou opgestopte boudbroeke (jip, it's a thing) dat dit lyk of jy 'n agterstewe het soos Jennifer Lopez. Net my luck dat groot boude en vol lippe deesdae in die mode is. Ek sou dit oorweeg, maar ek kan nou al my geliefde se onderdrukte gelag hoor. Meneer het duidelik nie 'n saak met SY boep nie.
Ek moes seker meer gim toe gegaan het? Toemaar dis 'n retoriese vraag. Ek het probeer, maar ek is duidelik nie 'n gymbunny nie. Note so self: Onthou om kennis te gee by die gim. Hulle gaan my natuurlik slaan met 'n kansellasie boete. Ek's sommer lus en sue HULLE.
Maak nie saak watse proteinshake jy ten duurste aankoop nie, jy kan NIE teen jou gene baklei nie.
Ek sit met Groot Ouma Truter se body shape. Ek onthou hoe lekker het ons kleintyd met Ouma se armvelle gespeel... Sy't altyd na haar wobble arms as haar Angel Wings verwys.
My oorgeërfde Engelvlerkies lyk of hulle van Crimplene gemaak is.
Jy vang my nie dood in 'n moulose top of rok nie. So ek het altyd 'n mou aan wat als toemaak en my laat verswelg van die hitte. En nou moet ek net noem dat ek nogal onaangenaam raak wanneer ek warm kry.
En op my ouderdom maak my lyf mos haar eie weer, ek is dus 80% van die tyd bevoeterd. Maar daar is lig in die tonnel, susters. Ek kom toe af op 'n lace toppie wat al my probleme gaan oplos.
Dis prakties EN dis sexy. Ja, girl ek mag dalk oor 60 wees maar ek hou daarvan om mooi te lyk. En aangesien ek diep in my hart eintlik 'n smous is, gaan ek die tops in alle kleure en groottes laat vervaardig vir my winkel, Amulet.
Ek gaan my crimplene arms en hals met lace verdoesel. So ek kan maar daai strappierokkie dra. Die skouer is oop sodat jy nie vrek van die hitte nie. En ek het nog nooit 'n oorgewig skouer gesien nie. So ek gaan mooi lyk EN gaaf wees.
My geliefde gaan 'n baie dankbare man wees. Verskoon my net 'n oomblik... ek moet net gou weer 'n draai gaan loop. Daar beter nie 'n vollengte spieël wees nie!
Hélène Truter